<?xml version="1.0" encoding="UTF-8" ?>
<othersabs xmlns="http://eprints.org/ep2/data/2.0"><item><othabstracts>Die wetenskap as praktyk in Suid-Afrika toon ’n afname in internasionale mededingendheid. Laasgenoemde is sigbaar in die tempo waarteen Suid-Afrikaanse vakpublikasies nie tred hou met dié van ander nasies nie, beide ontwikkelde en ontwikkelende lande. Hierdie afname, gepaardgaande met ’n afname in publikasiegetalle van veral junior navorsers, sou kon dui op ’n strukturele probleem in Suid-Afrika se nasionale innovasiestelsel. ’n Afname in die vakpublikasietempo dui daarop dat Suid Afrika ’n probleem het ten opsigte van die distribusie van kennis. Hierdie tesis is beperk tot die dinamiek van kennisdistribusie met spesifieke verwysing na ‘Open Access’ wetenskaplike kommunikasie. ‘Open Access’ wetenskaplike kommunikasie is ’n eksplisiete intervensie gemik op kennisdistribusie. Wetenskap binne en vanuit ontwikkelende lande word alhoemeer onbelangrik geag en kennis-imperialisme and kennis-afhanklikheid neem toe. Aan hierdie laasgenoemde aspekte word ook aandag geskenk. ’n Deel van die argument wat geopper word is dat kennisdistribusie en kennis-generering kern aspekte van lang-termyn ekonomiese groei is. 
Hierdie tesis bestaan uit twee kern afdelings: ’n teoretiese raamwerk gebaseer op ’n literatuuroorsig, en ’n empiriese studie. Die sentrale konsepte van wetenskaplike kommunikasie en ‘Open Access’, nasionale inligtingsbeleid, en nasionale innovasiestelsels word beskryf in die teoretiese raamwerk (Hoofstukke 2 en 3). Die empiriese deel van hierdie studie (Hoofstukke 4 en 5) bestaan uit twee dele. Beide laasgenoemde dele maak gebruik van ’n opname as metodiek, maar die eerste deel het gebruik gemaak van ’n vraelys, en die tweede deel het gebruik gemaak van  gestruktureerde studie van rekords (in die vorm van Webtuistes). Albei empiriese studies was gebruik om die vlak en mate van aktiwiteit rondom ‘Open Access’ binne ’n beperkte Suid-Afrikaanse wetenskaplike gemeenskap vas te stel. Hierdie gemeenskappe is gedefinieer óf volgens dissipline óf volgens instansie.
Die doel van hierdie tesis was veelvoudig: om die vlak van kennis van en betrokkenheid by ‘Open Access’ inisiatiewe vas te stel binne Suid-Afrika; sowel as om ’n basis-dokument te skep insake Suid-Afrika se betrokkenheid tot op hede by verskeie ‘Open Access’ inisiatiewe. 
Die argument vir ‘n oop wetenskaplike stelsel word gestel. Verder word geargumenteer dat die lukrake en ongekoördineerde manier waarop ‘Open Access’ tot dusver in 
Suid-Afrika bevorder is, daarop dui dat ’n intervensie op die vlak van beleid benodig word. Laasgenoemde beleid sou binne die bestaande beleidsomgewing geformuleer word, en sou relatief min ontwrigting meebring in die huidige Suid-Afrikaanse navorsingsopset. Die spesifieke beleid wat ter sprake is, is die nasionale inligtingsbeleid aangesien dit regulasies daarstel ten opsigte van die berging, distribusie, en herwinning van navorsingsuitsette.
Hierdie tesis stel voor ’n verandering van die huidige statutêre verslagdoeningsmeganisme – wat gebruik word deur wetenskaplikes om verslag te doen oor hul gepubliseerde navorsing om navorsingsubsidie te kry – wat sou vereis dat wetenskaplikes hul navorsingsuitsette beskikbaar stel via ’n ‘Open Access’ kanaal, en verder, dat navorsers verslag doen oor laasgenoemde.</othabstracts><language>af</language></item></othersabs>
